Coca-Cola

'n Botteltjie Coca-Cola.
Coca-Cola se handelsmerk.
Die "World of Coca-Cola"-gebou in Las Vegas, Nevada.
'n Botteleringsfabriek van Coca-Cola Kanada Ltd, 8 Januarie 1941, Montreal, Kanada.

Coca-Cola, ook Coke genoem, is ’n tipe gaskoeldrank. Die koeldrank is die wêreld se topverkoper-drankie en word in meer as 200 lande oor die wêreld verkoop.[1] Dit word deur die Coca-Cola-maatskappy vervaardig. Hulle hoofkantoor is in Atlanta, Georgia, VSA en hul grootste kompetisie is Pepsi.

Die drankie is in die laat 19de eeu deur John Pemberton uitgevind en was aanvanklik gepatenteerde medisyne. Die sakeman Asa Griggs Candler het dit vervaardig en sy bemarkingstegnieke het daartoe gelei dat Coca-Cola die koeldrankmark dwarsdeur die 20ste eeu oorheers het. Die koeldrank se naam verwys na twee van sy oorspronklike bestanddele: kokablare en die kolaneut (’n bron van kafeïen). Die huidige Coca-Cola-formule is ’n geheim, hoewel verskeie beweerde resepte en eksperimentele skeppings al gepubliseer is.

Die Coca-Cola-maatskappy vervaardig ’n konsentraat, wat dan aan gelisensieerde botteleerders oor die hele wêreld verskaf word. Die botteleerders vervaardig die eindproduk uit die konsentraat, water en versoeters in bottels of blikkies. Hulle verkoop en versprei ook die Coke.

Van tyd tot tyd word ander koladrankies deur die Coca-Cola-maatskappy onder die Coke-naam vervaardig, soos Diet Coke, kafeïenvrye Coke en Coke Zero. Volgens ’n studie deur Interbrand in 2015 was Coca-Cola die wêreld se handelsnaam met die derde hoogste waarde, naas Apple en Google.[2] In 2013 is Coke-produkte in meer as 200 lande wêreldwyd verkoop.[3] Coca-Cola was in 2018 no. 87 in Fortune 500 se lys van die grootste Amerikaanse maatskappye na aanleiding van totale inkomste.[4]

  1. "Brand Fact Sheet". Coca-Cola official website. 1 Desember 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2009. Besoek op 3 Maart 2013.
  2. "2015 Ranking". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2016. Besoek op 16 Desember 2018.
  3. Elmore, 2013, p 717
  4. "Fortune 500 Companies 2018: Who Made the List". Fortune (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Januarie 2019. Besoek op 10 November 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search